This Blog is also available as an RSS Feed

Algemeen

Besoek die Gold of Africa Museum

Kaapstad is ‘n stad met bykans ontelbare toeriste aantreklikhede en kan die besoeker vermaak op velerlei wyses en terselfdertyd ‘n blik gee in die geskiedenis en kultuur van hierdie gediversifiseerde land. Een so ‘n plek is die Gold of Africa Museum in die Martin Melck-huis, ‘n stylvolle gerestoureerde historiese landmerk in Strandstraat. Die Martin Melck-huis is in 1783 gebou en word beskou as een van die beste oorblywende voorbeelde van plaaslik ontwikkelde argitektuur in die 18de eeu.

Die Gold of Africa Museum is die eerste museum ter wêreld toegespits op die geskiedenis van goud en oor die 350 Wes-Afrika goud artefakte asook stukke wat terugdateer na antieke beskawings in suidelike Afrika word hier uitgestal. Die fokuspunt van die museum is die eksklusiewe Barbier-Mueller versameling van Afrika goudartefakte. Hierdie versameling is oor ‘n periode van vyftig jaar opgebou deur ‘n Switserse versamelaar Josef Mueller en is na sy dood voortgesit deur sy dogter en skoonseun Jean Paul Barbier. Die versameling is in die Barbier-Mueller Museum in Switserland uitgestal totdat dit in 2001 aangekoop is deur Anglo Gold Ashanti en na Afrika teruggebring is.

Een van die museum se oogmerke is om die publiek se aandag te vestig op die behendige kunsbewerking deur antieke Afrika beskawings en ook om terselfdertyd die tradisionele ontwerpe en tegnieke te bewaar vir toekomstige geslagte, maar ook om moderne ontwerpe te inspireer. ‘n Opgeleide gids begelei besoekers deur duisende jare se rituele en legendes en openbaar antieke Afrika spreekwoorde en leefwyse in die geskiedenis van goud en die impak daarvan op beskawings. Besoekers kry ‘n blik op agtergrond en waardesisteme van die mense wat elke eksklusiewe stukkie vervaardig het en ook die simboliek in die ontwerp word verduidelik.

Behalwe vir die permanente uitstallings in die museum is daar ook van tyd tot tyd uitstallings vanuit ander lande soos Mali, Brasilië en Egipte. Aangesien tydelike uitstallings voortdurend gewissel word, dien dit as aansporing vir besoekers om die museum keer op keer te besoek.

Die Gold of Africa Museum het ook ‘n juwelierswerkswinkel waar demonstrasies en kursusse aangebied word. Besoekers kan goudsmede sien terwyl hulle juweliersware van Suid-Afrikaanse goud skep en sommige daarvan word in die museumwinkel te koop aangebied. Kursusse wissel in lengte en koste maar is beskikbaar vir enigiemand wat die kuns van juwelemaak wil aanleer.

Besoekers aan Kaapstad moet eenvoudig die geleentheid benut om die Gold of Africa Museum te besoek vir ‘n unieke insig in die vele fasette van goud ─ ‘n edelmetaal wat aanhou om waardevol te bly.

 





Combine Flights?













New Business Users, read more and join on the Business Affiliates page.

New Individual Users, join on the Forum Users Registration page.