This Blog is also available as an RSS Feed

Algemeen

Die Afrika-wildehond

Die Afrika-wildehond (Lycaon pictus) word dikwels in ‘n negatiewe lig gesien vanweë sy jaggewoontes. Hulle, tesame met ander spesies, speel egter ‘n kardinale rol in die ekosisteem. Wildehonde is die mees bedreigde spesie onder die groot vleiseters (karnivore) in Suid-Afrika en daar is slegs tussen 3 000 en 5 000 van hulle, hoofsaaklik in die Kruger Nasionale Park, oor. Kom ons kyk ‘n bietjie na hierdie besonder interessante familie-georiënteerde vleiseters.

Die Afrika-wildehonde is gespesialiseerde roofdiere wat tipies in troppe van 15 tot 20 saamwoon. Hulle word maklik herken aan hul groot geronde ore, kollerige bruin, swart en wit lywe, wit-gepunte sterte, lang bene, ‘n rankerige lyf en ‘n onderskeidende streep van tussen die oë tot agter die kop. Hulle is ongeveer dieselfde grootte as ‘n volgroeide Duitse herdershond met afmetings soos volg: lengte 105 – 150 cm; skouerhoogte ─ 65 tot 80 cm en massa ─ 20 tot 30 kg. Hoewel die grootse bevolking in die Kruger Nasionale Park is, is daar ook ‘n aantal wildehonde losgelaat in parke soos Madikwe, Pilanesberg en Hluhluwe-Imfolozi.

Wildehonde is hoofsaaklik dagdiere en jag gewoonlik in die oggende of laat namiddae. Hulle maak in hoofsaak staat op sig en vermy dus lang gras, beboste gebiede en woude. Die hele trop neem deel aan die jagtog. Tydens die jagtog beweeg die wildehonde geleidelik nader aan hul gekose prooi en versnel wanneer die prooi wegbeweeg. Sulke agtervolgings kan maklik vir etlike kilometers volgehou word. Kleiner slagoffers word gewoonlik dadelik platgetrek, maar in die geval van groter wildsoorte word die prooi eers verswak deur die dier te hap en stukke vleis weg te skeur. Dit is waarskynlik hierdie metode wat vir dié diere se negatiewe reputasie verantwoordelik is, maar daar moet terselfdertyd op gelet word dat hulle slegs soveel wild jag as wat vir hul onmiddellike behoeftes nodig is. Hulle het ‘n wyd uiteenlopende dieet wat wissel van klein steenbokkies tot groot boksoorte soos buffels. Hulle eet ook voëls, hase en knaagdiere. Na die prooi platgetrek is, prop hulle hul mae so vol as moontlik en wanneer hulle by hul lêplek kom, word die vleis weer opgebring vir die kleintjies en die groottes wat tuisgebly het op die kleintjies op te pas. Wildehonde jag oor ‘n groot gebied en vestig nie ‘n bepaalde territorium nie.

Slegs die alpha manlike en vroulike diere paar en kleintjies kom gewoonlik gedurende Maart tot Julie aan wanneer jag die maklikste is. Die ontwikkelingstyd na bevrugting duur van 69 tot 73 dae waarna daar lewe geskenk word aan twee tot tien kleintjies.

Die vraag is dus, waarom word hierdie prag spesie van Afrika se graslande met uitwissing bedreig? Daar is egter verskillende bedreigings vir die wildehond waaronder sy konflik met die mens, die fragmentering van sy habitat en aansteeklike siektes. As gevolg van hul negatiewe reputasie word hulle dikwels vergiftig of geskiet. Hul habitat word toenemend deurkruis met paaie en baie word slagoffers van voertuie. Soos die mens meer en meer land vir homself opeis, kom die wildehonde toenemend in aanraking met huisdiere en mense en dus ook met siektes waarteen hulle geen weerstand het nie. Daar is weliswaar talle projekte deur bewaringsorganiasies wat poog om die voortbestaan van die wildehonde te verseker in Suid-Afrika, maar ook in Afrika. Donasies deur indiwidue aan hierdie organisasies en ook die weerlê van wanopvattings rakende hierdie diere kan tot hul voortbestaan bydra.

 





Combine Flights?













New Business Users, read more and join on the Business Affiliates page.

New Individual Users, join on the Forum Users Registration page.