This Blog is also available as an RSS Feed

Algemeen

Die sensasie van valskermspring (skydiving) in Suid-Afrika

Ervare valskermspringers weet alles van die adrenalien jagende ervaring wat die sport inhou en wil, veral wanneer met vakansie, nie ‘n geleentheid om te spring misloop nie. Gelukkig het Suid-Afrika valskermklubs in al die vernaamste toeriste sentra asook in ‘n aantal kleiner stede soos Pietermaritzburg en Grahamstad met die gevolg dat die geleentheid om te spring nooit regtig ver weg is nie.

Indien u nog nooit met ‘n valskerm gespring en veral vry geval het vir ‘n aansienlike deel van die sprong nie, ontstaan die vraag onwillekeurig: wat kan ek verwag? ‘n Tipiese sprong beteken om uit ‘n vliegtuig op ‘n hoogte van ongeveer 4 000 meter te spring en vry te val vir ‘n tyd totdat jy self die valskerm aktiveer om die spoed na benede te laat afneem vir die landing. Nadat die valskerm oopgegaan het, kan die springer sy rigting en spoed met stuurlyne beheer wat handvatsels het wat aan die toue na die valskerm geheg is. Die springer kan dus homself stuur na die landingsone en saggies land in ‘n veilige omgewing.

Valskermspring word deur baie beskou as naaste wat die mens aan vlieg kan kom omdat die liggaam self die instrument is wat die vlug beheer en nie ‘n masjien nie. ‘n Ervare valskermspringer kan sy spoed en rigting beheer bloot deur die houding van die liggaam te manipuleer en kan selfs, tot ‘n gering mate, agteruit beweeg.

Baie mense is bang vir valskermspring omdat hulle ‘n vrees het vir die val-sensasie, maar dit is egter nie die geval nie. ‘n Springer bereik ‘n ewewig tussen versnelling en die wrywing wat die liggaam bied teen ongeveer 190 km/u waarna daar geen verdere sensasie van val ervaar word nie. Dit is slegs die aanvanklike versnelling wat die ‘valgevoel’ veroorsaak.

Die beste en veiligste manier om valskermspring te toets is met ‘n tandemsprong met ‘n ervare springer. Tydens so ‘n sprong word die beginner met ‘n harnas aan die ervare springer geheg terwyl laasgenoemde al die beheer uitoefen. Die enigste vereiste is dat die beginner die meester moet vertrou en sy samewerking gee. Die voordeel van hierdie tipe sprong is dat die beginner al die sensasie en die uitsig ervaar sonder om hom oor die tegniese aspekte te bekommer. Na so ‘n eerste sprong is die beginner gewoonlik aan die sportsoort verslaaf vir die res van sy lewe.

Suid-Afrika beskik oor ‘n wye verskeidenheid van skilderagtige natuurskoon en baie van die klubs is juis in sulke plekke geleë. Watter beter manier is daar om hierdie skoonheid te aanskou as van uit die lug?

 





Combine Flights?













New Business Users, read more and join on the Business Affiliates page.

New Individual Users, join on the Forum Users Registration page.