This Blog is also available as an RSS Feed

Algemeen

Draai af verby Loeriesfontein

Loeriesfontein is ‘n klein dorpie in die Noord-Kaap en is geleë in ‘n groot kom omring deur berge waar Namakwaland, Boesmanland en die Hantam streke mekaar ontmoet. Veral bekend vir sy asemrowende veldblomme in die lente, bied die dorpie ook ‘n hele aantal ander besienswaardighede wat besoekers van heinde en ver lok.

Gedurende Augustus en September, en soms tot in Oktober, is lente veldblomme absoluut oraloor ─ in die veld rondom die dorp tot in Namakwaland, op die gholfbaan en orals in die dorp self. Die lenteblomme word gevolg deur ‘n vertoning van ligpers, pienk en rooi vygies. Hierdie geharde plat vetplante sorg vir hul eie tapyt van kleur in die veld.

Loeriesfontein bied elke jaar ‘n landbouskou aan met die fokus veral op skape en saalperde. Hierdie jaarlikse sametrekking van die landbougereedskap is reeds in sy veertigste jaar en is ongetwyfeld die sosiale hoogtepunt van die gemeenskap en dan geniet dit ook nog provinsiale en nasionale erkenning.

Rondom Loeriesfontein is daar uitstaande voorbeelde van die ongewone Aloue Digotoom, algemeen bekend as kokerbome ─ laasgenoemde naam omdat boesmanjagters die bas en takke van die boom gebruik vir die maak van pylkokers. Hierdie geharde inheemse plante word tot vier meter hoog en gaar groot hoeveelhede water in hul stamme op wat hulle in staat stel om vir onbepaalde tye droogtes te oorleef.

‘n Interessante versameling van 27 werkende windpompe is te sien by die Windpomp Museum in Loeriesfontein. Hierdie versameling is begin deur wyle dr Walton van Kaapstad en word tans in stand gehou deur die Fred Turner Museum wat langsaan geleë is. Die Fred Turner Museum, wat ‘n ou skoolgebou betrek het, het meer as 1000 items wat veral die aandag vestig op die kultuur en leefwyse van die ou pioniersboere van Namakwaland. Daar is onder andere ‘n trekwa, ‘n perdemeul en ‘n volledig toegeruste tent.

Die dorp Loeriesfontein het rondom ‘n algemene handelaarswinkel, wat in 1894 deur Frederick Turner gestig is, ontwikkel. Turner was vroeër van Norwich in Engeland en sy winkel het ten doel gehad om voorrade aan die boerderygemeenskap te verskaf. Die winkel bestaan vandag nog en is bekend as Turner & Haupt Spar en word bestuur deur Turner se kleinseun, Victor Haupt.

As jy daarvan hou om interessante plekkies, weg van die gebaande weë, te verken, is ‘n besoek aan Loeriesfontein dalk net die antwoord.

 





Combine Flights?













New Business Users, read more and join on the Business Affiliates page.

New Individual Users, join on the Forum Users Registration page.