This Blog is also available as an RSS Feed

Algemeen

Kragga Kamma Wildreservaat, Port Elizabeth

Dit gebeur nie dikwels dat besoekers ‘n wildtuin binne ‘n stad se grense aantref nie. Besoekers kan dit egter ervaar ten opsigte van die Kragga Kamma Wildreservaat wat met al sy natuurskoon slegs vyftien minute rytyd vanaf Port Elizabeth se stadsentrum is. Daar is die wye vlaktes, wildlewe en asemrowende landskap wat jou maklik laat vergeet dat daar ‘n groot stad net buite die hekke van die wildreservaat is. Die Kragga Kamma Wildreservaat bied ‘n ontvlugting vir ‘n daguitstappie of sommer vir ‘n hele naweek.

Wanneer die besoeker die reservaat betree, ontvang hy ‘n lys van al die wild in die park tesame met ‘n foto van elk om die uitkenning te vergemaklik. Die besoeker kan self met sy voertuig die park deurkruis of aansluit by wildtoere met opgeleide gidse. As jy self die park wil verken, moet jy minstens drie ure daarvoor opsy sit en natuurlik kan sulke besoekers so lank as wat hulle wil, vertoef by plekke van hul keuse. Die toere, daarenteen, word gedoen met oop veldvoertuie en die gidse kan besoekers veel nader aan die wild bring en terselfdertyd baie informasie kommunikeer.

In die reservaat word groot troppe bontebokke aangetref en ook troppe van die lechwe en die njala op die grasvlaktes, terwyl kameelperde wei aan die blare in die boomtoppe en buffels hul eie stil plekkies opsoek om te rus. Die sebras speel orals rond en witrenosters word ook orals aangetref waar hulle rustig herkou en die manewales van die ander diere aanskou. Vlakvarke draf orals tussen die struike rond terwyl apies hulself vermaak op elke denkbare plek. Jagluiperds word in ‘n afsonderlike kamp aangehou naby die skaduryke boskafee en piekniekplekke. ‘n Hoogtepunt is natuurlik om jou foto te laat neem saam met die reservaat se mak jagluiperd.

Hoewel rondry die besoeker in staat stel om naby aan baie van die diere te kom, is daar ook nog die boswandelpad wat aan te bevele is. Hierdie unieke ervaring geskied op boomtophoogte deur middel van platforms wat deur die woud kronkel en wat die kyk na die meer as twee honderd voëlspesies moontlik maak. Die skaars Knysna Loerie is hier te sien asook aasvoëls, visarende, valke en vele meer.

Die Kragga Kamma Reservaat bied veel aan en moedig besoekers aan om in hul wye verskeidenheid akkommodasie keuses oor te bly. Die keuses is tussen herberge, luukse safaritente, houthutte, woonwaens of chalets. Hierdie besondere reservaat ontvang jaarliks duisende plaaslike en oorsese besoekers wat telkens weer en weer terugkom.

 





Combine Flights?













New Business Users, read more and join on the Business Affiliates page.

New Individual Users, join on the Forum Users Registration page.