This Blog is also available as an RSS Feed

Algemeen

‘n Fantastiese vakansie in Citrusdal

Met die eerste oogopslag lyk Citrusdal in die Wes-Kaap na net nog ‘n klein plattelandse dorpie, maar met nader kennisname word dit duidelik dat die besoeker talle avonture kan ontdek. Soos uit die naam afgelei kan word, is Citusdal bekend vir sy kleurvolle vrugteboorde en natuurlik ook vars lug met die geur van sitrus en dan is daar ook nog die asemrowende Sederberge. Slegs sowat twee uur vanaf Kaapstad is Citusdal ‘n bestemming propvol natuurskoon en talle toeriste aantreklikhede.

Geleë langs die Olifantsrivier is Citrusdal die toonaangewende streek ten opsigte van sitrusverbouing in Suid-Afrika en is internasionaal bekend vir sy sappige en smaaklike vrugte. Dis minder bekend dat Citrusdal spog met ‘n verskeidenheid akkommodasie tipes wat insluit selfsorg chalets, kampeerterreine, bed-en-ontbyt plekke en gastehuise. Net buite die gejaag van Kaapstad se stadslewe kan besoekers natuurskoon, ontspanningsaktiwiteite en ander saakmakende toeriste aantreklikhede ervaar.

Eerstens is daar die feit dat Citrusdal die tuiste is van die oudste vrugtebome in Suid-Afrika (ouer as 160 jaar). Sport entoesiaste moet ook kennis neem van die nege-putjie gholfbaan terwyl varswater hengel in die Olifantsrivier ‘n gewilde tydverdryf is. Besoekers moet hulle egter vergewis van bestaande hengelregulasies en beperkings op sekere vissoorte soos die Calnwilliam-sandvis en die Barnards-klipbarber wat nie uitgehaal mag word nie. Voëlkyk, staproetes, bergfietsroetes, 4X4 roetes, kunsstalletjies en verfbal (paintball) is van die vele aantrekkingskragte. Spesifieke staproetes in Boschkloof, Sederbergwildernis, Sneeuberg en Dwarsrivier is veral gewild as gevolg van die uitstaande flora en fauna langs die roetes. Roetes soos die Sevilla Boesmankunsroete gee die stapper die geleentheid om rotskuns te besigtig. Rotsklim kan beoefen word by Treirjeskraal en Bobbejaankop, terwyl fietsroetes vanaf Citrusdal tot in die Sederberge loop. Wynproe kan ervaar word by die Gouevallei Wynlandgoed en keldertoere word ook aangebied.

Die Citrusdal Museum is veral bekend vir sy uitstalling van die Khoisan-nalatenskap van die omgewing. Die Seinkanon verdien ook ‘n besoek aangesien dit die oorspronklike kanon is wat gevuur is as skepe Tafelbaai nader en bied ‘n asemrowende uitsig. Die warmbron is ‘n rustige plek met warmwater bronne en spa-baddens om die besoeker te vertroetel terwyl talle mense steeds glo dat die warmbron genesende krag besit.

Van uitdagende 4X4 ritte tot rus en kalmte ─ die besoeker sal dit alles in Citrusdal vind met natuurskoon as ‘n bonus.

 





Combine Flights?













New Business Users, read more and join on the Business Affiliates page.

New Individual Users, join on the Forum Users Registration page.