This Blog is also available as an RSS Feed

Algemeen

Ongelooflike ontdekkings by SciFest Africa

Suid-Afrika se jaarlikse nasionale wetenskapsfees, SciFest Africa, is geskeduleer vir 16 tot 22 April in die mooi en historiese dorp Grahamstad. SciFest Africa gaan meer as 500 gebeurlikhede aanbied, wat insluit interaktiewe uitstallings, werkswinkels, opvoedkundige teater, ‘n kaskar wedren, buitelug uitstappies, laservertonings, wetenskap olimpiades, hoërskool vasvra wedstryde, toere en ‘n stokperdjie uitstalling asook ‘n FilmFest.

Sedert 1997 bied die SciFest Africa (vroeër bekend as die Sasol SciFest) wetenskapsverwante onderwerpe aan op ‘n wyse wat van opvoedkundige geleenthede pret maak. Weens die feit dat natuurwetenskappe, wiskunde en ingenieurswese deel is van die alledaagse lewe poog hierdie hoë profiel nasionale geleentheid om vooroordele en alledaagse wanopvattings oor die kompleksiteit van wetenskap te weerlê. Besoekers word genooi “om wetenskap in ‘n ander lig te sien” soos dit op die SciFest Africa bemarkingsplakkate geadverteer word. Besoekers kry voldoende geleentheid om interaktief met wetenskapsprojekte te verkeer in ‘n ontspanne en kleurvolle omgewing. Studente gaan ontdek hoe opwindend en verreikend wetenskap en wetenskaplike beginsels kan wees.

SciFest Africa bied ook ‘n platform vir Suid-Afrikaanse wetenskaplikes, tesame met vooraanstaande wetenskaplikes van ander wêrelddele om hul werk te deel, loopbaan leiding te gee en as rolmodelle te dien vir ontluikende wetenskaplikes in Suid-Afrika. Onderwerpe wat aangebied word, sluit in mobiele en draadlose tegnologie en die kulturele invloed daarvan, landboukundige navorsing oor hoë-opbrengs graansoorte wat aangepas is by ons spesifieke omstandighede, virtuele storievertelling en die aanbied daarvan in digitale formaat, en vele meer.

Van die wetenskapsvertonings sluit in ‘n kulkunstenaar en ‘n wetenskaponderwyser van die Universiteit van New York wat die gehoor vasgenael sal laat sit deur hul metodes van onderrig. Besoekers kan hulself toets met ‘n verskeidenheid strikvrae wat sal bewys dat, anders as die populêre opvatting, wiskunde nie moeilik is nie. ‘n Sweedse wetenskaplike sal die geheime rondom polimere ontrafel deur van mieliemeel, jogurtbakkies en ander materiale gebruik te maak.

Die Verenigde Nasies het 2008 verklaar as die Internasionale Jaar van die Planeet Aarde. Met dit in gedagte gaan SciFest Africa kyk na wyses om die skade wat aan die aardomgewing aangerig word, te beveg. Die uitwerking van aardverwarming en wat dit vir die toekoms inhou sal beklemtoon word asook die rol wat indiwidue kan speel om die uitwerking te verminder.

SciFest Africa het in 2007 meer as 45 000 besoekers gelok en die organiseerders is vol vertroue dat SciFest Africa 2008 ‘n selfs groter sukses gaan wees. Elke lid van die gesin sal iets vind by SciFest Africa wat binne sy belangstelling val. Toegang is gratis en die koste verbonde aan meeste van die werkswinkels en ander aanbiedings is R8-00. Waar jy dus ook al mag wees, gaan na Grahamstad en geniet hierdie opwindende gebeurtenis.

 





Combine Flights?













New Business Users, read more and join on the Business Affiliates page.

New Individual Users, join on the Forum Users Registration page.