This Blog is also available as an RSS Feed

Algemeen

Suid-Afrika se Boerperd

Strydig met die populêre opvattings is daar wel ‘n aantal perderasse wat in Suid-Afrika ontstaan het en is steeds baie gewild as ryperde. Nie veel van hierdie perde het egter ooit buite Afrika beweeg nie. Hul waarde as ryperde en as werkende plaasperde kan nooit onderskat word nie. Perdeliefhebbers van ander lande sal verbaas wees om te weet dat daar minstens ses verskillende perderasse is wat hul oorsprong na die Afrika-vasteland kan terugspoor.

Slegs twee van hierdie ses rasse word egter internasionaal erken. Hulle is die Kaapse Boerperd en die Suid-Afrikaanse Boerperd wat tot onlangs as die Historiese Boerperd bekend gestaan het. Die Boerperd is egter die mees onderskeidende en oudste van die Suid-Afrikaanse rasse met ‘n geskiedenis wat na 1653 terugdateer toe die Nederlands Oos-Indiese Kompanjie die eerste perde die land in gebring het.

Die eerste teelmateriaal kom vanaf Indonesië en was ‘n kruising tussen Arabierperde en die Barbaryse perd. Met verloop van tyd is ‘n aantal Arabierperde ingeteel om kwaliteit van die ras te verbeter. Hierdie oorspronklike teling het bekend geword as die Kaapse perd en die sagte gekrulde dik maanhaar van die Barbaryse perd is steeds dikwels ‘n eienskap van hierdie perderas. Later is hierdie perderas se bloedlyn verbeter deur dit met ander opreggeteelde perderasse te vermeng. Die Kaapse perd was gehard en kon oorleef met gebrekkige voeding en weiveld en was ‘n baie gemaklike rydier. Verdere eienskappe was die perd se uithouvermoë en saggeaardheid. Die perd was ook besonder aantreklik. Hierdie perd het mettertyd bekend geword as die Boerperd toe dit deur die boere in die twee Boererepublieke gebruik is en het later daar geïsoleerd geraak.

Tydens die Anglo-Boereoorlog is groot getalle van hierdie perde gedood. Opregte Hackneys en Clydesdales in ingevoer om hierdie uitgedunde perde aan te vul, maar ‘n klompie telers het egter die bloedlyn suiwer probeer hou en stadig die getalle aangevul. Laasgenoemde groep was die voorsate van die latere Suid-Afrikaanse Boerperd en ses verskillende bloedlyne van die ses verskillende troppe van die Anglo-Boereoorlog oorleef het, was die gevolg.

In 1948 is die Boerperd Telersvereniging gestig om die ras lewend te hou en om bepaalde standaarde in plek te hou en die getalle aan te vul. Teen 1970 was daar ‘n aantal telers wat die bloedlyne wou verbeter, terwyl ‘n aantal tradisionaliste die ras onveranderd wou behou. Dit het gelei tot die ontstaan van twee uiteenlopende groepe telers in 1980. Die een groep het die ras onveranderd laat bly en dit het bekend geword as die SA Boerperd. Die tweede groep het eienskappe bygeteel, sonder om van die oorspronklike eienskappe te laat wegval. Hierdie laasgenoemde perde het bekend geword as die Kaapse Boerperd.

‘n Ander bekende perderas uit Suid-Afrika kom uit die koninkryk van Lesotho. Die Basoetoe ponie kom uit die Kaapse perd , ‘n aantal wat tydens strooptogte gesteel is. Die uiterste omstandighede en swak weiding in Lesotho het groei belemmer en die perde geharder gemaak. Vandag is hierdie klein geharde ponies - gemiddeld 14,2 hande hoog - gereeld in gebruik in die bekende ponieroetes van die Lesotho Koninkryk.

Twee ander perderasse wat in Suid-Afrika ontstaan het, is die Nooitgedacht ponie en die SA Vlamperd. Die Nooitgedachter het eintlik ontstaan uit die Basoetoe-poon en is as ras gevestig by die Nooitgedacht Navorsingstasie (vandaar die naam) gedurende die vyftigerjare. Hierdie ras is ‘n stewige, vriendelike en aantreklike vyfgang perd. Hulle word veral gebruik vir polo, dressering, perdespring kompetisies en is gewild vir kinders. Hulle is gewoonlik ligbruin met donkerder punte.

Die SA Vlamperd is in die Wes-Kaap ontwikkel uit ‘n negentiende eeuse perd, bekend as de Hantam Perd. Die Hantam Perd het ontstaan uit die kruisteling van opregte Europese perderasse en Arabier perde met Kaapse merries. Meer onlangs is Frieslandse hingste met Hantam merries gekruis en ook later weer met Oldenburgse en Cleveland perde gekruis. Die resultaat was die sogenaamde Vlamperd wat ‘n goedgeaarde, grasieuse perd is wat veral kenmerkend ‘hoog trap’. Dit is ‘n perd wat ewe goed onder die saal as in die tuig gebruik kan word. Die naam is ‘n Verafrikaanste weergawe van Flander’s Horse wat Vlaamse perd en later Vlamperd geword het.

 





Combine Flights?













New Business Users, read more and join on the Business Affiliates page.

New Individual Users, join on the Forum Users Registration page.