This Blog is also available as an RSS Feed

Algemeen

Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie

Die Artscape operateater in Kaapstad gaan die gasheer wees vir die loodsing van die Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie wat vir 14 tot 19 Januarie 2008 beplan word. Die kompetisie is deur die voormalige Hoof Uitvoerende Beampte van die Suid-Afrikaanse Balletteater, mnr Dirk Badenhorst geïnisieer met die doel om internasionale blootstelling vir plaaslike en buitelandse dansers te bewerkstellig en ook om regisseurs van plaaslike en buitelandse geselskappe aan nuwe talent bloot te stel.

Die verwagting is dat die Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie toerisme na Kaapstad sal bevorder en terselfdertyd die stad se status as toegangspoort tot Afrika stimuleer. Dit word verder verwag dat die kompetisie Kaapstad en Suid-Afrika op die Kuns en Kultuur Landkaart sal plaas. Met die klem op die fyner uitvoerende kunste soos kontemporêre en klassieke ballet en dans kan dit dien as ‘n platform wat amateur en professionele geselskappe nader aan mekaar kan bring in ‘n mededingende omgewing waaruit almal voordeel kan trek.

Die organiseerders van die Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie beplan ook om werkswinkel sessies te reël waar jong dansers van die sogenaamde histories benadeelde gemeenskappe die geleentheid sal kry om te meng met besoekende en plaaslike professionele dansers en deelnemers. Die groeiende aantal dansprojekte wat orals rondom Kaapstad verskyn sal geteiken word om deel te neem aan die gebeurtenis.

Die kompetisie word in twee kategorieë verdeel, naamlik ‘n Junior/Amateur Afdeling vir die 15 tot 18 ouderdomsgroep en ‘n Senior/Professionele Afdeling vir die groep van 19 tot 28 jaar. Die twee kategorieë sal volgens verskillende kriteria beoordeel word, maar beide sal berus op ‘n punte-per-rondte stelsel. Kontantpryse sal in elke afdeling toegeken word. Die beoordelingspaneel sluit invloedryke danspersoonlikhede vanaf Suid-Afrika en oorsee in wat luister aan hierdie opwindende gebeurtenis sal verleen. Sluitingsdatum vir inskrywings kom nader en inskrywings vanuit Kuba, Brasilië, Argentinië, Japan en Sjina is reeds ontvang.

Dansers, beoordelaars en toeskouers sien uit na die Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie en terselfdertyd kan hulle die geleentheid benut om Kaapstad en sy baie toeriste aanloklikhede te verken.

 





Combine Flights?













New Business Users, read more and join on the Business Affiliates page.

New Individual Users, join on the Forum Users Registration page.