This Blog is also available as an RSS Feed

Algemeen

Wandel deur die skouspelagtige Kirstenbosch Botaniese Tuine

Aan die voet van die bekende Tafelberg in Kaapstad is die Kirstenbosch Botaniese Tuine. Dit is die tuiste van ‘n indrukwekkende versameling inheemse Suid-Afrikaanse plante en beslaan ‘n ongelooflike 528 hektaar. Die Liesbeekrivier gee water aan die tuine en die totaalindruk wanneer die besoeker rondom hom kyk, gee gestalte aan die grafskrif van professor Pearson, die eerste direkteur van Kirstenbosch Botaniese Tuine: “If ye seek his monument, look around.”

Die nalatenskap van mense soos professor Pearson sedert die stigting van die tuine is een van trots en natuurlike skoonheid. Cecil John Rhodes was die eienaar van die grond waarin die tuine is, maar het dit na sy dood in 1902 bemaak aan die nasie. Met die talle wandelpaaie kan besoekers ‘n besondere versameling van natuurlike woude en plantegroei uniek aan Suid-Afrika besigtig. Die tuine het deur middel van die Silwerboomwandelpad en die Wewervoëlpad voorsiening gemaak vir gestremdes in rystoele terwyl die Silwerboomroete en die Geelhout- en die Stinkhoutroetes meer uitdagend is en ongeveer drie ure neem om te voltooi. Gesiggestremde besoekers is ook welkom en hulle kan die Braille-roete volg deur middel van aanraak en reuk en borde wat alles in Brailleskrif verduidelik. Aangesien hierdie roete ook ‘n besondere ervaring bied ten opsigte van aromatiese inheemse plante word siende besoekers ook aangemoedig om die roete volg waar daar ‘n wyer sintuiglike ervaring as net die sigbare moontlik is. ‘n Roete, bekend as die Skeleton Gorge, volg die roete wat wyle generaal J C Smuts gereeld gestap het en eindig bo-op Tafelberg met sy asemrowende uitsig.

Kirstenbosch Botaniese Tuine bevat ook ander besienswaardighede soos die Botaniese Vereniging se konservatorium, die Skiereilandtuin (oor die 2 500 plantspesies op uitstalling), die Watertuin, die Aromatiese tuin, die Protea-tuin, die ‘nuttige plante tuin’ en Van Riebeeck se Heining wat in 1660 deur Jan van Riebeeck geplant is.

Die groot verskeidenheid, prag en geskiedenis van inheemse plantegroei van Suid-Afrika kan by die Kirstenbosch Botaniese Tuine in Kaapstad ontdek word en dis ‘n inspirerende en fassinerende fasiliteit. Om tussen lewende plante te loop en versierings van Zimbabwiese beeldhouwerk te ervaar, is uniek. Die verskeidenheid restourante en teekamers dra by om die liggaam met die gees te laat bybly terwyl die omgewing jou siel verryk.

 





Combine Flights?













New Business Users, read more and join on the Business Affiliates page.

New Individual Users, join on the Forum Users Registration page.