Avitoerisme groei steeds in Suid-Afrika

Suid-Afrika is wêreldbekend vir sy wildlewe en toeriste kom vanuit alle wêrelddele om die talle wildreservate te besoek. Suid-Afrika is egter ook ‘n voëlkyk paradys ─ ‘n feit wat dikwels nie aan die internasionale gemeenskap bekend is nie. Met die aktiewe bemarking van avitoerisme word verwag dat dié toedrag van sake gaan verander soos meer voël-entoesiaste, plaaslik asook van oorsee, die ryke voëllewe van Suid-Afrika begin ontdek.

Suid-Afrika bied ‘n tuiste aan meer as 900 voëlspesies, waarvan 177 endemies of byna endemies aan die land is. Dit beteken dat meer as 20% van Suid-Afrika se voëlspesies nêrens elders ter wêreld aangetref word nie. In samehang hiermee is ‘n goed ontwikkelde padnetwerk en lugroetes bydraend tot die gemak waarmee ‘n uitgebreide netwerk van ‘voëlroetes’ dwarsdeur die land bereik kan word. Voëlgidse uit die plaaslike gemeenskappe, teen bekostigbare pryse, en akkommodasie wat die voëlkyker se behoeftes en begrotings pas, maak Suid-Afrika ‘n bestemming wat die moeite werd is om te ondersoek.

BirdLife South Africa is oorhoofs in ‘n koördinerende rol ten opsigte van die netwerk van ‘voëlroetes’ dwarsoor hierdie gediversifiseerde land. Hierdie roetes is ‘n belangrike instrument ten opsigte van bewaring en gee terselfdertyd aan voëlliefhebbers toegang tot ‘n wye verskeidenheid voëls in hul natuurlike habitat. Inkomste wat gegenereer word deur die gebruik van BirdLife South Africa Birding Routes en BirdLife Travel word in noodsaaklike konserveringsprojekte aangewend of word teruggeploeg in die gemeenskappe rondom die plekke waar hulle as informele bewaarders van die habitat optree.

Die meeste van die landvoëls kan betreklik maklik bereik word deur ‘n kort entjie vanaf ‘n parkeerterrein te stap, terwyl daar ook talle staproetes oor wisselende afstande en van wisselende moeilikheidsgraad is vir die genot van besoekers. Van hierdie ‘voëlroetes’ is binne van Suid-Afrika se sogenaamde groot-vyf wildreservate wat natuurlik bydra tot die avontuur van ‘n voëlkyk-uitstappie.

Toerisme lewer ‘n saakmakende bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie. As gevolg van suksesverhale uit lopende avitoerisme projekte beplan BirdLife South Africa ‘n verdere ses sodanige roetes in die omgewing van Kaapstad en die res van die Wes-Kaap. Soos in die geval met soortgelyke projekte in KwaZulu-Natal en Limpopo gaan die beplande roetes ook opheffingswerk in die omliggende gemeenskappe stimuleer deur werkverskaffing, terwyl die bewaringsbewustheid van die inwoners opgeskerp gaan word. Die nuwe ‘voëlroetes’ gaan aan kykers toegang tot meer as 600 spesies verleen, waarvan 28 spesies endemies aan die Wes-Kaap is. Van die spesies sluit in die Kaapse Sysie (Serinus totta), die Kaapse Suikerbekkie (Promerops cafer) en die Oranjebors Suikerbekkie (Nevtarinia violacea).

Tot op datum het BirdLife South Africa meer as 140 gidse opgelei. Hierdie gidse het ‘n waardering ontwikkel vir die belangrikheid van voëls beide vanuit ‘n ekonomiese asook ‘n ekologiese oogpunt en dit het na hul gemeenskappe oorgespoel. Hierdeur het beide die gemeenskappe asook die voëls en hul habitat gebaat.

Deur samewerking met plaaslike gemeenskappe het BirdLife South Africa gewys hoe doeltreffend avitoerisme projekte kan wees. Hul ‘voëlroete’ projekte dra by om sosiale, ekonomiese en omgewingsbehoeftes aan te vul wat belangrike vereistes vir volhoubare ontwikkeling is.