Avontuurlike Renoster-safaris

Die majestueuse renoster kom beslis intimiderend voor. Met ‘n hoogte van ongeveer 1,8 meter en ‘n massa van amper twee ton, is dit een van Suid-Afrika se ikone. Die dier word dikwels onderskat, want dit het ‘n vinnige humeur en dis onmoontlik om van hom af weg te hardloop aangesien hy oor kort afstande ‘n spoed van tot sestig kilometer per uur kan haal. Oor die laaste paar jaar het die getalle van veral die swart renosters ontstellend gedaal aangesien wildstropers die pragdier byna tot uitwissing gedryf het. Vandag is dit slegs in die beskermde omgewing van wildreservate waar hierdie diere nog voorkom en ongehinderd kan ronddwaal.

Renoster-safaris het baie gewild geword en is leersaam en opvoedkundig. Professioneel opgeleide gidse wat ervare is in die opsporingstegnieke deel hul kennis met die besoekers en toeriste en speel veral ‘n deurslaggewende rol in die opspoor van ‘n spesifieke dier. Die interessante deel van die opsporingstegniek is dat hulle die spesifieke eienskappe in hul voetspore het wat net so uniek is as die mense se vingerafdrukke. Besoekers sal ook meedoen aan die soek vir gebreekte takke en ander aanduiders van hul teenwoordigheid, terwyl hul gaandeweg onderrig word in die gedrag van renosters en ander diere wat hulle mag teëkom.

Die bome en plante in elke gebied het ook hul eie ‘stories’ om te vertel en gidse lig mense dikwels in oor die medisinale gebruike en bygelowe rondom spesifieke plantsoorte. Die groot beloning is natuurlik om die spesifieke renoster te vind wat deur spoorsny gesoek word en om dit van ‘n veilige afstand waar te neem. Om saam met die diere op die grond te wees en hulle in hul natuurlike omgewing waar te neem, bring die besoekers nader aan die natuur en dra by om ‘n begrip te vorm vir die rol wat bewaarders speel in Suid-Afrika.

Die meeste wildtuine bied renoster-safaris aan en dit is spesifiek aan die orde by die Kruger Nasionale Park, die Pongola Wildreservaat en die Zululand Rhino Reserve . Hierdie ervarings bied aan toeriste ‘n unieke geleentheid om hierdie sonderlinge diere in hul natuurlike omgewing van die nader te leer ken. Hierdie majestueuse diere is beslis deel van die trots van Afrika en hul oorlewing is van alles oorheersende belang. Renoster-safaris sorg nie alleen vir die avontuur van ‘n leeftyd nie, maar bring ook begrip vir hierdie beskermde diersoort en die noodsaaklikheid van hul bewaring.