Besoek die Suid-Afrikaanse Joodse Museum

Suid-Afrika is ‘n land van diversiteit, veral met betrekking tot sy inwoners. Dit is ‘n kleurvolle mengsel van ras en religie wat nie êrens anders so gemaklik voorkom nie. Elke groep het ‘n geskiedenis of ‘n verhaal asook ‘n trotse erfenis wat verdien om bewaar te bly. Die Suid-Afrikaanse Joodse Museum is in die jaar 2000 geopen deur die legendariese Nelson Mandela.

Die museum is geleë in Kaapstad se sogenaamde Museummyl en word gehuisves in ‘n gebou wat ‘n moderne argitektuur meesterstuk is. Hierdie deel van Kaapstad is skouspelagtig waar besoekers tussen majestueuse eikebome, historiese geboue, standbeelde en fonteine kan wandel in ‘n area wat deurdrenk is van kultuur en styl. Die Suid-Afrikaanse Joodse Museum bestaan uit verskeie afdelings: Die oudste sinagoge wat in Suid-Afrika gebou is, grens aan die museum; die Groot Sinagoge wat in 1905 voltooi is, is ewe skouspelagtig. Die Albow Centre bevat die Gitlin-biblioteek, die Israel Abrahams Saal, die Café Riteve, die Suid-Afrikaanse Joodse Museumwinkel en die Kaapstad Holocaust Centre.

Die Suid-Afrikaanse Joodse Museum is opgerig om die geskiedenis van die Joodse gemeenskap in Suid-Afrika ten toon te stel met die klem op die laaste een honderd en vyftig jaar. Binne die ou Sinagoge is daar ‘n indrukwekkende versameling van Joodse kuns en ander verwante illustrasies. Die museum is ontwikkel rondom drie hooftemas: Herinnering ─ die ontstaan van die Suid-Afrikaanse Joodse gemeenskap; Realiteit ─ die integrasie van die Joodse gemeenskap in die Suid-Afrikaanse samelewing; en, Drome ─ die toekoms van Judaïsme in die land. Ander uitstallings is ‘n asemrowende wenteltrap, swewende glas, multimedia uitstallings wat ‘n eksklusiewe Nelson Mandela dokumentêr insluit, voorstellings, video-opname en foto’s.

‘n Wandeling deur hierdie verstommende museum is terselfdertyd ‘n reis deur die talle uitdagings wat deur die Joodse gemeenskap oorkom is en sluit in immigrasie, religieuse pluralisme, anti-Semitisme en rassisme. Die museum bied ook ‘n verskeidenheid uitstallings deur gaskunstenaars. Dit is ‘n kulturele kleinood wat die hart is van die Joodse godsdiens en die besoeker deur ‘n venster laat kyk in kardinale deel van die geskiedenis van Kaapstad en ook Suid-Afrika.