Birds of Eden ‘n Paradys

Net buite Plettenbergbaai is daar ‘n tropiese avontuur vir die hele gesin om te geniet. Inheemse woude, wandelpaaie, helder strome en bruggies werk mee om ‘n veilige en skouspelagtige hawe vir voëls wat Birds of Eden hul tuiste gemaak het. Dit het reeds ‘n baie gewilde aantrekingskrag vir besoekers geword met voëlsang, kleur en ‘n groot verskeidenheid voëlspesies. Oorsese besoekers sal veral verras wees met die groot verskeidenheid Suid-Afrikaanse voëls en dan is daar ook ‘n aantal eksotiese spesies.

Die Birds of Eden strek oor 2,3 ha of 23 000 meter2 met maste met verskillende hoogtes wat die voëls in staat stel om vryheid van vlug te geniet. Die hoogste mas is vier en dertig meter hoog langs ‘n krans wat wegval na die kant en gevolglik ‘n hoogte van vyftig meter vir vrye vlug bied. Die konstruksie van die koepel is sodanig dat dit van Birds of Eden die wêreld se grootste vry-vlug voëlpark maak. ‘n Waterval binne die park stel besoekers in staat om die voëls van ‘n unieke punt waar te neem en met die strategiese plasing van vrugte en saad langs die wandelroetes kan besoekers die voëls van naby besigtig.Die gebaande wandelroetes strek oor 1,2 kilometers en is gemaklik ook vir rolstoele. Daar is ook ‘n khoi-visdam en ‘n restourant vir versnaperinge.

Birds of Eden is die tuiste van ongeveer drie duisend voëls bestaande uit 220 spesies wat ‘n verskeidenheid papagaaisoorte insluit, beide uitheemse en Afrika-soorte soos parkiete, Cockatoo’s, Macaws, Afrcan Greys is te besigtig en dan ook flaminke, duifsoorte en neushoringvoëls om maar ‘n paar tenoem. Die amfiteater in die park bied sitplek vir twee honderd mense en daar is verskeie banke in die park waar besoekers rustig die kleur en klanke kan ervaar. Troeteldier eienaars wat nie langer vir hul voëls kan sorg nie, kan aansoek doen om hul voëls in die park vry te laat. Die park is ‘n asemrowende ervaring en voëlliefhebbers mag nie die geleentheid misloop om hierdie aanskoulike voëls in ‘n bykans natuurlike omgewing te besigtig nie.