Celine Dion begin haar wêreldtoer in Suid-Afrika

Céline Dion aanhangers kyk gretig uit na 14 Februarie 2008. Céline Dion word tans as een van die wêreld se voorste musiek kunstenaars in die gebied van ligte musiek beskou en sy het besluit om haar 2008 wêreldtoer in Suid-Afrika te begin met die eerste konsert by die Coca Cola Saal in Johannesburg.

Céline Dion sal die Internasionale hoofster wees by die jaarlikse “Unite the Stars” konsertreeks dwarsdeur Suid-Afrika. Hierdie gebeurtenis word gewoonlik in November gehou, maar die geleentheid is spesiaal na Februarie 2008 verskuif ten einde Céline Dion se wêreldtoer skedule te kan akkommodeer. Dit sal haar eerste besoek aan Suid-Afrika wees en sy het reeds aan die pers verklaar dat sy opgewonde daaroor is. Sy het reeds die drie miljoen kerf vir album verkope in Suid-Afrika verbygesteek en is die grootse verkoper onder vroulike kunstenaars in die land.

Die Johannesburg-konsert op 14 Februarie 2008 word gevolg deur twee konserte in Pretoria, een in Durban en een in Port Elizabeth waarna sy na Antwerpen in België sal vertrek vir die voortsetting van haar toer.

Céline Marie Claudette Dion is in ‘n groot familie op 30 Maart 1968 in Charlemagne in Quebec gebore. Hierdie wêreldberoemde Kanadese sanger en liedjieskrywer het haar loopbaan in Francophone, Kanada begin waar haar bestuurder René Angélil (wat later met haar getrou het) sy huis verpand het ten einde haar eerste album te finansier. Dion het daarna die Yamaha World Popular Song Festival gewen asook die 1988 Eurovision Song Contest, wat aan haar die blootstelling gegee het wat nodig was om ‘n internasionale loopbaan te loods.

In 1990 het Céline Dion die album “Unison” vrygestel. Dit was haar eerste Engelse album in opvolging van veertien vorige albums in Frans. Gedurende die negentigerjare het Dion se loopbaan meteories gestyg en het sy wêreldwye sukses en beroemdheid behaal en teen die einde van daardie dekade was sy een van die suksesvolste kunstenaars in popmusiek. Sy het in 1999 ‘n blaaskans geneem om aandag aan haar gesin te kon gee. In 2002 het sy weer die musiektoneel betree en ‘n vier jaar kontrak geteken om in die Colosseum by Caesar’s Palace in Las Vegas op te tree.

Haar kontrak by Caesar’s Place het geëindig en dus vertrek sy nou op haar wêreldtoer tot groot vreugde vir haar aanhangers wêreldwyd. Haar Suid-Afrikaanse aanhangers is opgewonde oor haar besluit om haar toer hier te begin, en gaan aan haar ‘n warm welkom gee.