Die Elfde Internasionale Afrika Digkuns Fees

Na die grootskaalse sukses van die vorige tien Afrika Digkuns feeste is dit bykans ‘n voldonge feit dat die fees wat geskeduleer is tussen 1 en 6 Oktober 2007 selfs beter gaan vaar as wat verwag word. Die fees vind in Durban plaas en is een van die bes ondersteunde kunsfeeste in Suid-Afrika.

Die KwaZulu Natal Sentrum vir Skeppende Kuns is die gashere en word ondersteun deur die Humanist Institute for Development Cooperation, die Departement van Kuns en Kultuur, die Franse Instituut van Suid-Afrika, die Koninklike Nederlandse Ambassade, die Stad Durban en die Ethekwini Munisipaliteit. Vanjaar kan gehore uitsien na die deelname van twintig digters wat vanaf tien verskillende lande kom. Die vooraf gebeurtenis is egter ewe belangrik.

Op 29 September word die sogenaamde Flavours of Durban in die Durban Stadsaal aangebied. By die Midmardam word gaste genooi op 30 September na ‘n voetstamp en Afrika Musiekfees. Die eintlike digkunsfees begin op 1 Oktober by die Elizabeth Sneddon Teater. Elke aand sal gehore vermaak word deur vyf digters per aand wanneer elkeen sy eie unieke styl sal aanwend om die gehore te vermaak. Sommige sing, sommige praat, terwyl sommige hipnotiese ritmes en musikale ondertone gebruik. Die gaste sluit in: Nathalie Handal, Danyel Waro, Stanley Anjezani Kenani, Habib Demba Fall, Ishle, Keamotgesi Joseph Molapong, Shailja Patel, Chirikure Chirikure, Angolfo Dladla, Napo Masheane, Danie Marais, Mphutlane wa Bofelo, Phillippa Yaa de Villiers, Kobus Moolman, Haidee Kruger en vele meer. Die fees sal ook nuwe Durban talent ten toon stel tesame met ervare kunstenaars soos Zorro, Syd Kitchen, Bullet, Baxolile Dimange, Madala Kunene en Furrah Simbeku. Die finale dag, 6 Oktober vind by die BAT Sentrum plaas. Elke dag bied werkswinkels, digkuns in gevangenis, seminare en wedstryde aan.

Kaartjies kan by Computicket, die BAT Sentrum en die Elizabeth Sneddon Teater verkry word. Daar is ook spesiale pakkette beskikbaar vir skoolgroepe en alle seminare en werkswinkels is gratis. As u in Durban is, gaan besoek gerus die fees en ondersteun Suid-Afrika se talent.