Die FNB Whisky Live Festival

Dit maak nie saak of jy ‘n whisky fynproewer is, of dit by geleentheid gebruik nie, of nog nooit die voorreg gehad om die kunsvorm van hierdie gewilde drank te ervaar nie, die FNB Whisky Live Festival is vir elkeen van hierdie kategorieë bedoel. Dis die vyfde keer dat die fees aangebied word en vind beide in Kaapstad en Johannesburg plaas en spog met uitsoek whiskies vanuit Suid-Afrika en van die res van die wêreld.

Hierdie FNB Whisky Live Festival lok groot whisky name elke jaar en is reeds ‘n bekende en gerespekteerde gebeurtenis van plaaslike sowel as internasionale belang. Die groeiende mark vir whisky in Suid-Afrika maak dit bykans vanselfsprekend dat daar ‘n gebeurtenis moet wees wat die publiek inlig oor die produk, produkname asook ou tradisionele produkte. Bekende persoonlikhede word betrek soos Eddie Russel (Wild Turkey), Martine Nouret (redakteur van die French Whisky Magazine), Kevin O’Gordon (Jameson), Billy Walker (Ben Riach), Dave Broom (whisky-joernalis), Robert Fleming (Tomitoul), Ronnie Cox (Glenrothes) en Richard Patterson (Whyte and MacKay).

Twee belangwekkende gebeurtenisse is vanjaar by die FNB Whisky Live Festival. Eerstens is daar die saal waar die produkte geproe kan word. Besoekers word op ‘n denkbeeldige reis deur die wêreld geneem om die geskiedenis van elke whisky te ontdek, die verskil in smaak te ervaar en selfs ook om met die distilleerders en verteenwoordigers van die verskillende produkte te kan gesels. Tweedens word daar werkswinkels aangebied en besoekers word aangeraai om aan beide gebeurtenisse deel te neem veral omdat daar by laasgenoemde whiskies bekend gestel gaan word wat nie in die ‘proesaal’ sal wees nie. Japannese whiskies sal uitgestal word, terwyl ander nuwe handelsmerke beskikbaar sal wees soos van De Toren, Distell, Brandhouse Beverages, Edward Snell, KWV, Pernod Ricard, Douglas Green Bellingham en vele meer. Die reeks produkte wat uitgestal sal word, is ongeveer een honderd en tagtig verskillendes.

Die fees sal natuurlik ‘n wye reeks stalletjies beskikbaar hê wat kos, musikante wat lewendig optree en kunsuitstallings sal insluit. Toegangskaartjies is van Computicket beskikbaar en wissel van R95 tot R400 per persoon afhangende van die tipe kaartjie. Die Kaapstad-fees is van 31 Oktober 2007 tot 2 November 2007 by die Internasionale Konferensiesentrum. Die Johannesburg-fees is 7, 8 en 9 November by die Sandton Konferensiesentrum. Dis ‘n fees van whisky, pret en vermaak wat nie misgeloop mag word nie. Die eerste twee dae van die Kaapstad-fees is reeds uitverkoop, dus moet jy spoedig die naaste Computicket besoek.