Die groeiende sport van skaats (nie ski) agter ‘n motorboot

‘Wakeboarding’ het nog nie ‘n lekker Afrikaanse naam nie. Volgens die woordeboek is die ‘wake’ van ‘n boot ‘n volgstroom of warrelgebied. Vir die doel van hierdie bespreking noem ons dit bootskaats. Na ’n beskeie begin het die sportsoort in Suid-Afrika al gegroei om selfs al met ‘n wêreldkampioen na vore te kom en het steeds ‘n vinnig groeiende getal entoesiaste. Met reeds ‘n Suid-Afrikaanse kampioenskap en skaatsers wat hul land internasionaal verteenwoordig, is dit geen wonder nie dat dit besig is om in ‘n gewilde sportsoort te ontwikkel.

Bootskaats is meer as om op ‘n plank agter aan ‘n boot met ‘n tou te ry. Die toerusting is nogal gespesialiseerd ten einde die skaatser te beveilig en hom terselfdertyd in staat te stel om asemrowende rolbewegings en self tuimelbewegings uit te voer. Benewens die regte uitrusting is ‘n paar lesse ook noodsaaklik.

Die regte stewels en hegklampe is noodsaaklik om veral die skaatser se enkels te beskerm. Die regte seine tussen die skaatser en die bootdrywer is noodsaaklik, want die regte spoed is noodsaaklik vir die uitvoer van verskillende toertjies. Spoed is nie die vernaamste vereiste in die vorm van skaats nie en selfs die professionele skaatsers volg ‘n boot met ‘n spoed van dertig of hoogstens vyf-en-dertig kilometer per uur. ‘n Knieversterker en beskermer is noodsaaklik veral vir die skaatser se voorste knie en kan ernstige beserings voorkom. ‘n Lewensgordel is noodsaaklik want, soos alle ander watersport, kan bootskaats ook gevaarlik wees.

Skitoue word nie gebruik nie aangesien hulle in ‘n mate rekbaar is. Die toue wat wel gebruik word, is gemaak van Tak, Spectra en Spectra-fusion wat dunner, ligter en korter is as die wat vir waterski gebruik word. Die handvatsels is ook gladder en smaller en aangesien bootskaatsers nie handskoene gebruik nie, is dit noodsaaklik dat die korrekte greep verkry word. Die planke is ook spesifiek ontwerp vir die sport asook vir die toertjies op water en in die lug. Die planke wissel in ontwerp en grootte na gelang van die skaatser se lengte en massa.

Deur voorbereid te wees met die regte uitrusting kan ‘n voornemende bootskaatser hom nou wend tot ‘n moontlike nuwe verslawende tydverdryf. Die toename in skaatsers verseker dat hierdie ‘n sportsoort is wat gekom het om te bly in Suid-Afrika.