Die J&B Met

Die J&B Met(ropolitan) is meer as net nog ‘n perderesies byeenkoms. Dit is ‘n byeenkoms van diegene op die top sosiale register asook een van die grootste mode uithanggeleenthede van die jaar. Vanjaar het die J&B Met sy dertigste verjaarsdag gevier in die styl en swier wat sinoniem met die geleentheid geword het. Op 26 Januarie 2008 sal die Kenilworth resiesbaan asook die hele Kaapstad weer oorgehaal wees vir hierdie asemrowende dag van perderesies en ontwerpersmodes.

J&B Rare Scottish Whisky het die dag vir baie jare reeds geborg. J&B se eie verhaal is veel ouer as dertig jaar en dateer terug na 1749 toe Giacomo Justerini na Londen verhuis het waar hy ‘n wynbesigheid begin het wat die Koninklike Oktrooi (Royal Warrant) in 1760 ontvang het. Afred Brooks het die advertensie vir whisky gesien in 1779 en koop die besigheid Johnson & Justerini en verander die maatskappy se naam na Justerini & Brooks en daarmee begin die naam J&B Rare. Justerini en Brooks het die resies se prysgeld ter herdenking van die dertigste verjaarsdag verhoog na R2 miljoen en sodoende die pot goud aan die einde van die resiesreënboog vergroot.

Van die land se beste perde kan gesien word oor hierdie 2 000 meter resies en die kompetisie op die baan is net so hewig as langs die baan. Soos gemeld bestaan die J&B Met uit veel meer as net die perderesies. Die mededinging vir die toekenning vir die besgeklede persoon is ‘n gewilde item en is van belang vir deelnemers en ontwerpers. Justerini en Brooks het ook kompetisies vir kleinhandelaars en winkels wat J&B handelsware adverteer en verkoop in die weke wat die gebeurtenis voorafgaan.

Onbekend aan vele resiesbaan besoekers is die feit dat die 45 hektaar wat die Kenilworth resiesbaan beslaan 275 plantspesies bevat wat inheems aan Suid-Afrika is en dat 22 van hierdie spesies op die sogenaamde Rooilys is wat beteken dat hulle met uitwissing bedreig word. Die Kenilworth resiesbaan is dus in die proses om tot ‘n natuurreservaat verklaar te word ten einde by te dra tot die oorlewing van hierdie rare plantspesies in Suid-Afrika.

Dus, met die aandag op perde, resies, modes en omgewingsbewaring het die J&B Met ‘n gewilde byeenkoms geword wat goed deur die publiek ondersteun word. Vir diegene wat nie bekend is met perderesies nie is dit ‘n goeie geleentheid om hierdie sportsoort te ervaar te midde van die swier en glans van die toeskouers.