Die Nelson Mandela Roete ─ Volg die voetspore van ‘n Lewende Legende

Nelson Mandela word deur miljoene gesien as ‘n persoon van integriteit, wysheid en menslikheid en is reeds ‘n lewende legende beide in Suid-Afrika en ver buite die grense van die land. Daar is nou ‘n Nelson Mandela Roete ontwerp waardeur toeriste plekke kan besoek wat landmerke op hierdie gerespekteerde staatsman se veelbewoë lewe is.

Die Nelson Mandela Roete begin in King William’s Town in die Oos-Kaap. King William’s Town is in 1826 gevestig as ‘n sendingstasie van die London Missionary Society en was later die fokuspunt van grensoorloë tussen Xhosas en Boere en Britte. Benewens ander interessante informasie beskik die Amathole Museum in die dorp oor ‘n saal wat in sy geheel handel oor die Xhosas, die stam waarvan Nelson Mandela’n lid is.

Die Nelson Mandela Roete gaan vervolgens deur Bisho en volg die N2 nasionale pad tot by Mthatha waar die Nelson Mandela museum geleë is en wat ook erfenisgebiede te Qunu, Mveso en Mthatha insluit. Die museum is in die historiese Bhunga gebou in Mthatha en bevat die versameling van die duisende geskenke, kaartjies en briewe wat Mandela van staatshoofde, organisasies en gewone mense ontvang het. Die volgende punt op die roete is die Gemeenskapsmuseum en Jeug- en Erfenisentrum te Qunu waar Mandela sy kinderjare deurgebring het. Die oorblyfsels van die primêre skool wat hy bygewoon het en die gebied waar hy en sy vriende gespeel het asook die begraafplaas waar sy ouers en ‘n seun en ‘n dogter begrawe is, is hier te sien.

‘n Tonnel onder deur die N2 lei besoekers na die derde deel van die Nelson Mandela Museum te Mveso. Besoekers kan hier ‘n fotorekord van saakmakende gebeure in Mandela se lewe besigtig en kan ook besoek aflê by die oorblyfsels van die opstal waar hy gebore is en groot geword het. Sy huidige woning is langs die N2 naby die gebied waar sy huis as kind was.

Die volgende plek langs die roete is weg van die Oos-Kaap en is in die Gauteng provinsie waar sy nederige woning te 8115 Ngakanestraat, Orlando-Wes in Soweto besoek kan word. Die huis is omskep in ‘n Mandela Familiemuseum en bevat ‘n verskeidenheid skilerye, foto’s en ‘n versameling ere-doktorsgrade wat aan Mandela deur universiteite dwarsoor die wêreld toegeken is asook ‘n groot verskeidenheid ander gedenkwaardighede. ‘n Besoek aan die Apartheidsmuseum in Johannesburg bied insig in die opkoms en verdwyning van die Suid-Afrikaanse apartheidsisteem deur midel van films, teks, foto’s en voorwerpe.

Die Nelson Mandela Roete sluit af met ‘n besoek aan Robbeneiland aan die kus naby Kaapstad en is tans ‘n museum wat ‘n verskeidenheid aspekte van die Suid-Afrikaanse erfenis uitbeeld. In die verlede het Robbeneiland gedien as ‘n gevangenis vir Hollandse en Brite soldate asook vir sekere burgerlikes, inheemse Afrika-leiers, Muslim-leiers en anti-apartheidsaktiviste onder andere ook Nelson Mandela. ‘n Inisiatief deur president F W de Klerk lei tot die vrylating van Nelson Mandela op 11 Februarie 1990 onder groot buitelandse mediabelangstelling en sy uiteindelike verkiesing as Suid-Afrika se eerste verteenwoordigende demokratiese president in 1994.

‘n Reis langs die Nelson Mandela Roete sal begrip en waardering laat groei vir ‘n persoon wat gehelp het om Suid-Afrika se geskiedenis te vorm sonder om ooit sy wortels te vergeet.