Elton John toer in Suid-Afrika in 2008

Elton John het ‘n reputasie as ‘n groot weldoener en is een van die suksesvolste musikale kunstenaars van sy era met ‘n loopbaan van meer as veertig jaar waartydens hy vyf Grammy-toekennings ontvang het asook een Academy Award. Suid-Afrikaanse entoesiaste is opgewonde dat Elton John in Januarie 2008 in ons land gaan optree. Sy optredes begin in Kaapstad op 13 Januarie, daarna in Durban op 16 Januarie en laastens twee keer in Johannesburg op 18 en 19 Januarie 2008.

Ten spyte van die feit dat dit Elton John en sy orkes se eerste optrede in Suid-Afrika sal wees, sal dit nie sy eerste besoek aan die land wees nie. Op Woensdag 12 Januarie 2005 het hy die Elton John Masibambisane Sentrum in Eldoradopark’ Johannesburg amptelik geopen. Die oprig van die gebou waar lewensvaardigheidskursusse vir misbruikte, verwaarloosde en weeskinders aangebied word, is deur die Elton John VIGS Stigting befonds. Tydens hierdie besoek aan Suid-Afrika was hy gasheer van ‘n liefdadigheidsdinee in Kaapstad waar R7 miljoen vir die stryd teen HIV/Vigs ingesamel is. Die Elton John Masibambisane Sentrum werk nou saam met die plaaslike gemeenskap, klinieke en skole ten einde kinders in nood te kan bystaan. Daar is raadgewers wat families besoek ten einde die hele gesin toe te rus om met die vernietigende gevolge van VIGS te kan saamleef. Hy het ook ‘n aantal projekte in KwaZulu Natal besoek wat ook nou steun van die Elton John VIGS Stigting ontvang.

Sir Elton Hercules John is gebore as Riginald Kenneth Dwight op 25 Maart 1947. Na sy skoolloopbaan het hy dadelik begin om sy merk te maak in die musiekwêreld deur sy eerste orkes, Bluesology, in 1961 te stig. Sy verhoognaam het gekom van die Bluesology se saksofoonspeler Elton Dean en ‘n kitaarspeler Long John Baldry. In 1967 het hy en Bernie Taupin ‘n liedjieskryf verbintenis begin wat besonder suksesvol was. Elton John se eerste album met die treffer ”Your Song” het hom in die internasionale kalklig geplaas in 1970 en daarvandaan tot 1976 het hierdie tweemanskap veertien albums die lig laat sien met onder andere “Captain Fantastic and the Brown Dirt Cowboy” waarvan die lied “Goodbye Yellow Brick Road” ‘n klassieke treffer geword het. Hierdie was die begin van ‘n suksesvolle loopbaan met talle hoogtepunte wat ingesluit het die verwerwing van die Britse ridderorde vir sy indrukwekkende bydrae tot die musiekbedryf asook sy rol as weldoener wêreldwyd.

Elton John het sonder twyfel deurlopend musiek van hoë kwaliteit na vore gebring en hy bly ‘n leidende figuur in ligte musiek. Sy ondersteuners sing steeds saam met sy tydlose deuntjies reeds vir baie jare en kyk dus met opgewondenheid uit om ‘n lewendige konsert van hierdie gewilde kunstenaar in Suid-Afrika te kan ervaar.