‘n Rustige besoek aan die Margaret Roberts Kruiesentrum
Die Margaret Roberts Kruiesentrum is geleë teen een van die noordelike hange van die pragtige Magaliesbergreeks, in die Hartebeespoort-omgewing in die Noordwes Provinsie. Hierdie gerespekteerde kruiedokter se naam is op ‘n wye reeks produkte dwarsoor die land ─ van skoonheidsmiddels tot kos, ‘n wye reeks kruieprodukte ─ beide geneeskundig en gerig op voedsel ─ en organiese insekdoders. ‘n besoek aan die Margaret Roberts Kruiesentrum is soos ‘n reis na ‘n ander wêreld, waar ‘n gevoel van welbehaaglikheid in alles ervaar word.
‘n Wandeling deur die hoof kruietuin verras besoekers met die verskeidenheid. As ‘n voorbeeld die feit dat meeste mense vertroud is met die reuk van laventel (lavender), maar nie baie mense weet dat daar dertig verskillende variasies is wat by naam geïdentifiseer is nie, en al hierdie variasies floreer in Margaret Roberts se kruietuin. Verskeie plante is deur kruisbestuiwing aangepas en die laventel seksie van die tuin is ‘n kleureprag van pers, ligpers en pienk met skoenlappers wat van plant tot plant fladder. Die kruietuin spog ook met ‘n indrukwekkende versameling van basiliekruid, roosmaryn en oregano, om maar ‘n paar van die bekendes te noem. Besoekers word ook na die res van die tuin uitgenooi wat in verskillende, tradisionele style uitgelê is en ‘n kombuistuin (kitchen garden), ‘n kosmetiek- en geuretuin en ‘n medisynetuin insluit. Daar is ook ‘n aantal kleiner tuine wat fokus op stresverligting, voëls en eetbare blomsoorte.
Die kwekery by die Margaret Roberts Kruiesentrum bied dieselfde verstommende verskeidenheid kruie, raar vrugtebome, medisinale plante en rankplante aan, elkeen volledig met informasie oor alle aspekte van elke plant. Daar is die Australiese teeboom, sitronella gras, die skaars bessiedraende vlierboom (elder) en die eksotiese Margaret Roberts roos ─ dis ‘n ou Engelse roos wat na haar vernoem is as erkenning vir haar bydrae tot die Suid-Afrikaanse plantkunde.
Die Margaret Roberts Kruiesentrum is slegs oop vir die publiek op Woensdae en sekere verklaarde “oop dae”. Die rede hiervoor is dat op ander dae Margaret Roberts opleidingskursusse aanbied vir mense wat hul eie kruietuine wil vestig. Daar is ook werkswinkels met die titels: “Verdien geld met kruie”, “Kook met kruie” en “Vervaardig plantolies en kosmetiekware”.
Daar is geen twyfel nie dat Margaret Roberts Kruiesentrum die plek is om te besoek om te ontkom aan die gejaagde tempo van die hedendaagse samelewing ─ selfs net vir ‘n kort rukkie. Toeriste in Suid-Afrika en Suid-Afrikaners moet doelbewus ‘n punt daarvan maak om hierdie stukkie paradys te besoek.