‘n Soweto-verhaal
Die tragiese verhaal van Romeo en Juliet; die twis tussen twee families, die Montagues en die Capulets; en die uiteindelike vernietiging van die twee minnaars is allerbekend. Hierdie verhaal is sekerlik al met talle variasies oorvertel, maar nog nooit met ‘n Afrika-karakter nie. Gedurende Maart 2007 het die musikale weergawe van hierdie verhaal in die Nelson Mandela Teater begin as die ‘Soweto Story’.
Net soos in die oorspronklike verhaal ontmoet twee jong mense en daar begin ‘n verhaal van passie en tragedie soos wat hulle veg vir hul verhouding en hul verknogtheid aan mekaar. Die oorspronklike Romeo en Juliet word deur Vuyani en Thandi vervang wat uit twee strydende families in Soweto kom ─ die Thwalas en die Kheswas. Die twee families se vete spruit uit opponerende ambisies in die taxibedryf en tot op hierdie stadium verskil die storielyn weinig van die van William Shakespeare, maar die uitkoms is heel verskillend.
Thandi se vader het haar vir ‘n huwelik beloof aan Malcolm, ‘n baie ryk man en, volgens die familie, ‘n geskikte eggenoot. Hierdie planne was ‘n groot probleem vir Vuyani en Thandi wat dolverlief op mekaar was. Vuyani besluit om vir Thandi te veg en kom by haar 21ste verjaarsdagpartytjie aan my die bendegroep met wie hy assosieer, die Pantsulas. Sake ruk ongelukkig handuit toe Thandi se broer en sy bende, bekend as die Bourgeois, in ‘n hewige straatgeveg in Soweto betrokke raak. Vuyani dood Thandi se broer in ‘n mesgeveg en slaan op die vlug.
Thandi se liefde vir Vuyani is egter so sterk as ooit en hulle beraam ‘n plan om Soweto vir altyd te verlaat. Nes in die Shakespeare-verhaal is die tragedie egter nou net om die draai. Malcolm, die man wat deur Thandi se ouers as haar man gekies is, hoor van die planne en spoor hulle by die treinstasie op. Hier eindig hul liefdesverhaal toe Malcolm uit jaloesie beide Thandi en Vuyani doodskiet.
Die rolverdeling vir die hoofspelers, Thandi en Vuyani, is Nkoto Malebaye en Aubrey Poo wat hul uitstekend van hul taak kwyt en hulle word bygestaan met ‘n talentvolle groep sangers en dansers. Die musiek is ‘n gesamentlike produksie van Jannie Neethling en Zwai Bala en slaag daarin om die emosies van vreugde, vrees en ‘n allesoorheersende teneergedruktheid skitterend uit te dra en dra by tot die reeds uitstaande musiekspel. Die span agter die Soweto Story is Packed House Productions, Genna Lewis, Stephen Simm, Quincy Myeza en Deon Opperman. Kaartjies vir hierdie Suid-Afrikaanse musiekspel is by Computicket verkrygbaar.