‘n Wandeling deur die Geskiedenis van Engelse Literatuur in Suid-Afrika

Die een hooffunksie van ‘n museum is om die publiek op te voed met betrekking tot die geskiedenis en die mense wat dit help skep het. Te Beaufortstraat 87 in Grahamstad is ‘n museum wat toegespits op die dokumentering van die verlede, terwyl dit ‘n rol speel in die bevordering van ‘n toekoms. Dit is die Nasionale Engelse Letterkunde Museum. Dit versamel, publiseer en voed op. Die museum bevorder nie allleen die Engelse taal in Suid-Afrika nie, maar fokus op briljante intellektueles wat ‘n bydrae tot die letterkundige wêreld gemaak het deur middel van talentvolle uitdrukkings en perspektiewe wat in briljante digwerk en letterkundige werke gekulmineer het.

Die museum is in 1972 gestig en beskik tans oor ‘n oorweldigende versameling van letterkundige skeppings deur Suid-Afrikaanse skrywers ongeag hul eerste taal. Die versameling behels tans meer as twee honderd en vyftig duisend items. Die versameling bestaan nie slegs uit gedigte of romans nie, maar sluit ook in verhoogstukke, dagboeke, biografieë, joernale, privaat korrespondensie, essays, gedenkskrifte en reisbeskrywings. Van die manuskripte is gepubliseer om ‘n wyer gehoor te bereik, sowel plaaslik asook oorsee.

Die museum beskik oor ‘n wye verskeidenheid uitstallings en ontvang graag die publiek, skole en ander opvoedkundige instellings om ‘n fassinerende blik te bekom op die letterkundige rykdom van die land. Onder die duisende manuskripte in die museum is daar werke van bekende en selfs legendariese skrywers soos Athol Fugard, Eric Pringle, James Ambrose Brown, Sarah Gertrude Millen en Reid Skinner. Die museum het ook ‘n projek begin om die werke van swart skrywers te versamel. Die projek wat in 1995 begin is, staan bekend as die Bibliography of Creative Writing and Literary Criticism by Black South Africans from 1800 to 1990. Sensuur op die werke van swart skrywers in die verlede het ‘n leemte gelaat in die dokumentering van Suid-Afrikaanse letterkunde en dié museum poog tans om hierdie leemte uit te wis. Die museum se beleid was nog altyd om materiaal en letterkundige werke sonder voorbehoud te versamel en, hoewel sommige werke vir altyd verlore is, poog dit om ‘n herhaling van die verlede te voorkom deur skeppende skryfwerk onder die jeug aan te moedig.

Alle materiaal in die museum is beskikbaar vir belangstellendes en die museum deel graag sy kennis en trots in skrywers van Suid-Afrika. Hierdie is ‘n seldsame geleentheid om die skoonheid van woorde te ontdek tesame met die verbeeldingsvlugte wat deur die skeppende woord geopen word.