Ontdek die skilderagtige skoonheid van Darling
Tussen die uitgestrekte wingerde van die Kaap lê ‘n area genaamd Groenkloof. Dit huisves een van die mees sprokiesagtige dorpe in Suid-Afrika, naamlik Darling, waar dit nie ongewoon is om nog ‘n perdekar in die strate te sien nie of mense wat die rustige dorp se manjifieke landskap inasem nie. Darling is ‘n dorpie wat vrede en vriendelikheid tussen die verskillende plaaslike gemeenskappe uitstraal en tog lewe dit met aktiwiteite.
Die Groenkloof-gebied, net buite Kaapstad, is so vernoem in die tyd van Oloff Bergh, ‘n legendariese ontdekker wat van die Weskus in 1682 gekom het. Teen 1853 het Charles Henry Darling, die luitenant-goewerneur, die plaas Langfontein aangekoop en bewoon. Die hele gebied is later na hom vernoem ten tye van die aankoop van die plaas deur die Raad van Trustees vir die ontwikkeling van ‘n dorp.
Reeds van die vorige eeu is die dorp bekend vir sy velde vol wilde blomme wat soos ‘n kombers die omgewing met pragtige kleure en geure oordek. James Backhouse het in 1840 geskryf: “There are no wildflowers like those in Darling.” In 1915 het Frederick Duckitt en mev Suzanne Malan die Darling Blommevereniging gestig en die vereniging het in 1917 die eerste Veldblom-skou geloods wat steeds voortgaan as die grootste jaarlikse gebeurtenis in Darling.
In 1899 het G Threnstrom en Nils Georg Moller na Darling verhuis en ‘n melkproduk prosesseringsaanleg aldaar gevestig wat vir die bekendste produk van Darling bekend geword het. Die aanleg is later verskuif na ‘n nuwe fabriek te Paardeneiland, maar die oorspronklike aanleg is steeds in werking en mense koop hul melk en botter daar. Dit was as gevolg van hierdie bedryf dat ‘n museum in 1978 geopen is, oorspronklik bekend as die Bottermuseum, maar tans is daar veel meer en ook die aantreklikhede van Darling word daar uitgestal.
Ander aantrekkingskragte na die dorp is besoeke aan wynplase, wildbesigtiging by die Buffelsfontein Natuurreservaat, by Sonquasfontein Privaat Natuurreservaat, en ook by Rondeberg. Besoekers kan ook deel in kultuuraktiwiteite by die Ttu San Kultuur- en Opvoedkundige Sentrum, terwyl kunsliefhebbers kan wandel deur die Chelsea on 34 Art Gallery. Daar is ook jaarlikse byeenkomste soos die Darling Music Experience en die Voorkamerfest wat die moeite werd is om by te woon. Keurige kosgeregte kan orals in die dorpie gevind word by plekke soos Bistro Seven, Cloof, Hilda’s Kitchen en die Marmalade Cat. Kleurvolle winkeltjies met unieke geskenke, wat insluit Ouma’sTreasures en Nostalgia for Collectors, sal sorg dat besoekers nie met leë hande terugkeer nie. Evita se Perron is ‘n teater/kabaretplek met ‘n restourant wat deur die bekende Pieter-Dirk Uys geskep is en opwindende vermaak bied.
Darling is ‘n onafhanklike dorpie met ‘n bloeiende landbousektor en ‘n paar kleinerige fabrieke wat mandjies, tekstiele en klere vervaardig, maar dit het ook ontwikkel tot ‘n toevlug van inspirasie en vrede vir baie kunstenaars. Besoekers sal ervaar dat ‘n besoek aan Darling ‘n reis is na ‘n wêreld van skoonheid.