Ontsnap na die Vreedsame Dorpie Paternoster

Daar is weinig bestemmings op aarde wat totaal onaangeraak is deur modernisasie en tegnologie. Om ‘n dorpie te vind wat nog lyk en voel soos toe dit gestig is, is raar en een daarvan is in Suid-Afrika, naamlik Paternoster. Slegs een honderd en vyftig kilometer van die gewoel van Kaapstad is die vissersdorpie Paternoster. Manjefieke strande, rustigheid en pragtige landskap plaas besoekers in ‘n ander wêreld.

Die dorpie is langs die weskus van Suid-Afrika geleë en is deel van die Columbine Natuurreservaat. In 1829 het ‘n skip met die naam Columbine langs die kus aldaar gesink en talle skipbreukelinge het die strand gehaal. Volgens oorlewering het die matrose hul dankbaarheid getoon deur die “Onse Vader” gebed op te sê en het die Latynse naam daarvan, Pater Noster, aan die dorpie gegee.

Daar is tans ongeveer een duisend vyf honderd inwoners in Paternoster en, soos in die verlede, maak hulle ‘n bestaan uit die visvangbedryf. Elke oggend met sonop kan die visserbote gesien word op hul tog na die visvelde vir hul daaglikse vangs. In die laatmiddag keer die bote terug met hul vangste van veral kreef en snoek. Vir toeskouers is daar bykans die hele jaar ook nog die skouspel van dolfyne en walvisse wat in die branders baljaar aangesien hulle daar veilig voel en waar daar respek vir hul teenwoordigheid is.

Gedurende die periode van laat-Julie tot September, met die koms van die lente, is daar ‘n nuwe lewe in die landskap en inheemse blomme met met ‘n verskeidenheid kleure, groottes en spesies oortrek die landskap sover as wat die oog kan sien. Hierdie blommeprag is egter net een van Paternoster se lokmiddels vir die toeris. Voetslaanroetes, bergfietspaaie, visjag onder water, hengel duik, seevaarte met kajakke en boottoere is van die aktiwiteite in Paternoster. Besoeke aan die Weskus Fossielpark, ‘n pottebak ateljee en die Kaap Columbine ligtoring (opgerig in 1936) is van die verdere aantrekkingskragte.

Met daaglikse vars vis kan besoekers onvergeetlike visgeregte geniet by die Paternoster Hotel. Die hotel, wat ouer as ‘n honderd jaar is, is ‘n gewilde aandoenplek van vistermanne vir drankies en vertellings van see-avonture. Die wit strande is die tuiste van meer as twee honderd voëlspesies en is ook die plek waar die moeë reisiger vreedsaamheid en ontsanning kan ervaar.