Roxette tree op in Suid-Afrika

Liedjies soos It Must Have Been Love, Fading Like A Flower, Listen To Your Heart en Dangerous was nie alleen treffers van die groep Roxette nie, maar is ingegrafeer in die harte van ondersteuners reg om die wêreld. Om hulle in lewende lywe op die verhoog te kan sien is die droom van baie entoesiaste en later in die jaar gaan die geleentheid opduik wanneer hierdie ikoniese persoonlikhede drie vertonings hier gaan aanbied as deel van hul wêreldtoer. Suid-Afrikaanse ondersteuners kan verseker wees dat dit ‘n geleentheid sal wees om te onthou.

Gedurende die 1980’s en 1990’s het Roxette ‘n huishoudelike naam dwarsdeur die wêreld geword. Hul sukses was verantwoordelik vir roem en Goue en Platinum toekennings het nie agterweë gebly nie. Die groep bestaan uit Per Gessle en Marie Frederiksson. Hulle het oor die jare meer as sestig miljoen albums verkoop met talle van hul treffers wat vandag nog steeds deur gewilde radiostasies gespeel word. Hulle het dwarsdeur die wêreld getoer en talle kere nommer een posisie op treffersparades gehaal, maar in 2002 het hul toerplanne skielik tot ‘n einde gekom toe Frederiksson gehospitaliseer is met ‘n gewas op die brein wat gelukkig suksesvol verwyder is. Dit het egter agt jaar geneem voor Roxette weer op die verhoog verskyn het met die Party Crasher toer in 2009. Die Hotel Tylosand was die plek vir ‘n twee uur konsert deur Roxette op 4 Augustus 2010 waarna hulle aangekondig het dat hulle weer op ‘n wêrerdtoer gaan. Die aankondiging van die toer kom kort op die hakke van hul aankondiging dat ‘n nuwe album saamgestel gaan word om saam met die toer vrygestel te word.

Beide Gessle en Frederiksson is opgewonde oor die toer en Gessle lewer kommentaar: “Welwetende wat Marie deurgemaak het om te herstel na haar ernstige siekte, is dit nie slegs ongelooflik nie, maar selfs ‘n wonderwerk. Dit sal wonderlik wees om ons gehoor op Planeet Aarde weer te ontmoet.” Frederiksson sê dat sy sedert 2002 daarvan gedroom het en nou gaan sy weer al haar ondersteuners ontmoet. Die konserte is geskeduleer vir 11 Mei 2011 te Kaapstad, 14 Mei 2011 te Johannesburg en vir 15 Mei 2011 by die Superbowl te Sun City. Pryse van kaartjies wissel tussen R250 en R475.