Sendelingroete ─ Weg van die gebaande roetes
Die Sendelingroete al langs die weskus van Suid-Afrika sal reisigers deur ‘n ongelooflike mooi streek van die land neem, met die Atlantiese Oseaan se uitgewaste sandstrande, ruwe berge en bykans oneindige landerye, vrugteboorde en wingerde. Die Sendinggestig Museum in Langstraat Kaapstad is die logiese begin vir so ‘n reis waar reisigers agtergrond kan verkry oor die sendingaksie in Suid-Afrika, wat terselfdertyd die toon sal bepaal waarmee die fassinerende Sendingroete verken moet word.
Die klein dorpie Mamre is ongeveer ‘n uur se ry van Kaapstad, tussen die industriële gebied van Atlantis en die skilderagtige dorpie, Darling. Mamre is in 1701 gestig as ‘n militêre en veepos om die Europese setlaars se vee te beskerm teen diefstal deur die inheemse bevolking. In 1808, met die Kaapkolonie onder Britse beheer, is Mamre oorgedra aan die Morawiese sendelinge wat spoedig ‘n florerende sendingstasie gebou het wat tot vandag toe bestaan. Die goed bewaarde historiese geboue in Mamre is almal verklaar tot nasionale gedenkwaardighede.
Die Morawiese sendingstasie by Goedverwacht is naby die dorp Pieketberg geleë en is ongeveer ‘n halfuur se ry die binneland in vanaf die weskus. Die grond het oorspronklik aan ‘n wewenaar en boer, Hendrik Schalk Burger, behoort. Na die afskaffing van die slawe het hy sy slaaf, Maniesa, saam met haar vyf kinders en skoonseun gevra om op die plaas aan te bly en hom tot sy dood te versorg. Hy het die plaas aan Maniesa en haar nageslag nagelaat en hulle het die plaas in 1881 aan die Morawiese sendelinge verkoop.
Die Wuppertal Morawiese sendingstasie is op die rant van die Cederberg geleë in die afgesonderde Tra-Tra vallei. Die dorp is in ‘n afgesonderde gebied wat slegs deur middel van ‘n kronkelende grondpad deur die Kouwebergpas bereik kan word. Wuppertal is aanvanklik gestig deur Duitse Rynse sendelinge in 1830 en het ‘n Morawiese sendingstasie in 1965 geword.
Papendorp is een van die paar oorblywende nedersettings wat aan besoekers ‘n kykie bied op die ongekompliseerde leefwyse wat langs die weskus algemeen voorgekom het. Geleë teen die Olifantsriviermond, bied Papendorp ‘n verruklike uitsig oor die rivier en die vleiland wat die habitat is vir ‘n verstommende verskeidenheid voëls. Inwoners van Papendorp maak ‘n bestaan uit die vang van vis in die riviermond en ook deur die oes van sout by die nabygeleë soutpanne. Laasgenoemde word op ‘n tradisionele wyse verwerk. Verder langs die Olifantsrivier is die Nederduits Gereformeerde Sending in die dorpie Ebenhaeser wat terugdateer na 1831 toe dit deur Duitse Rynse sendelinge gestig is. Die gemeenskap van Ebenhaeser skakel onderling met die van Papendorp.
Ander dorpe op die Sendelingroete sluit in Vanrhynsdorp, Rietpoort en Vredendal wat die tuiste is van die Vergenoeg Sendingstasie. ‘n Reis langs die Sendelingroete is ‘n unieke wyse om ‘n aantal van die afgeleë dorpies van Suid-Afrika te ontdek.