Suid-Afrika se KZN Filharmoniese Orkes

Die KZN Filharmoniese Orkes word allerweë beskou as Afrika se voorste orkes. Hul vertroue in die vermoë van musiek om oor alle grense heen te breek, hetsy sosiaal, ekonomies of rasverwant, en om mense dus te verenig, is die dryfkrag agter hul sukses. Die orkes se eerste optrede was ‘n konsert op 22 Oktober 1983 in die Pietermaritzburg Stadsaal en was die begin van ‘n reis wat die grasie van ‘n filharmoniese orkes na talle mense in Suid-Afrika gebring het ─ veral mense wat nooit so ‘n geleentheid sou gehad het as dit nie vir die inisiatief van die KZN Filharmoniese Orkes was nie.

Elke jaar herbevestig die KZN Filharmoniese Orkes hul betrokkenheid by musiek van uitmuntende gehalte deur ‘n verskeidenheid konserte dwarsdeur KwaZulu Natal en ook ander dele van Suid-Afrika aan te bied. Hulle is ook aktief betrokke by ‘n program wat ontluikende jong musikante aanspoor om tot hul volle potensiaal te ontwikkel.

Die KZN Filharmoniese Kadetprogram fokus veral op plaaslike kunstenaars om hul te lei tot ‘n voltydse loopbaan as musikante in Suid-Afrikaanse orkeste. Hierdie program is oop vir alle jong Suid-Afrikaners maar daar is egter ‘n bepaalde klem op diegene uit histories benadeelde gemeenskappe. Kandidate wat gekies word vir die program sluit by die orkes aan op ‘n voltydse basis en ontvang vergoeding en baat veral by die individuele onderrig deur senior musikante. Hierdie Kadetprogram het al reeds verskeie talentvolle en suksesvolle musikante opgelei wat nou hul musiekloopbane volg by die KZN Filharmoniese Orkes of by ander Suid-Afrikaanse orkeste.

Die Jaarlikse Jeug Konsertfees bied die geleentheid vir die room van die jong Suid-Afrikaanse musikante om hul talent en vlak van ontwikkeling ten toon te stel met ‘n program wat poog om die veelfasettige skoonheid van klassieke musiek na vore te bring. Die fees, waarin baie van die KZN Filharmoniese Orkes se studente aan deelneem, is dikwels die treeplank vir suksesvolle loopbane.

Benewens die ooglopende is die wêreldbekende KZN Filharmoniese Orkes ook ‘n waardevolle rolspeler in die aanbied van ballet, musiekteater en opera produksies.

Die KZN Filharmoniese Orkes het die status van ‘n niewinsgewende organisasie. Sy raad van direkteure bestaan uit gemeenskapsleiers en vooraanstaande sakelui wat almal ‘n intense liefde vir musiek het en dit met andere wil deel. Die KZN Filharmoniese Orkes het ten doel om Suid-Afrikaners aan te moedig om uit die gerief van hul wonings te beweeg en die opwindende ervaring aan te gryp deur ‘n lewendige orkesuitvoering by te woon.