Uitstaande vertonings tydens die Voorkamerfest te Darling
Die skilderagtige dorpie, Darling, by die Weskus is slegs 55 minute reistyd vanaf Kaapstad en is bekend vir sy asemrowende vertoning van veldblomme, uitstaande wynkelders, en ‘n hegte gemeenskap wat ook die kern vorm van die jaarlikse Voorkamerfest. Hierdie gebeurtenis vind vanjaar van 5 tot 7 September plaas.
Sedert die ontstaan van die fees in 2004 het dit dwarsdeur Suid-Afrika ‘n reputasie ontwikkel as ‘n innoverende en vermaaklike kultuurgebeurtenis. Die toenemende getalle elke jaar dui daarop dat die Voorkamerfest ‘n wenresep het. Die fees is geskoei op ‘n konsep vanuit Nederland en die inwoners van Darling stel vertrekke in hul huise beskikbaar vir die aanbieding van uitvoerings. Musikante, sangers, akteurs, komediante, skrywers, storievertellers en dansers sal voor waarderende gehore optree by agtien sodanige persele dwarsdeur Darling ─ van nederige wonings tot Victoriaanse herehuise.
Elke aanbieding begin by Evita se Perron op die gegewe tyd waarna die gehoor met plaaslike taxi’s na die betrokke bestemming vervoer sal word waar hulle vir ongeveer 25 minute vermaak sal word voordat hulle na die volgende perseel verskuif. Gehore kan uitsien na ‘n veelheid van kategorieë ─ komedie, musiek, dans, drama en storievertellings ─ terwyl hulle glad nie weet waarheen hulle volgende gaan of wat daar aangebied sal word nie. Daar is ses verskillende roetes, elk met drie verskillende vertonings, en besoekers aan die Voorkamerfest word aangemoedig om aan meer as een van die roetes deel te neem ten einde so veel as moontlik te ervaar.
Daar is verseker geen formele teater atmosfeer by die Voorkamerfest nie, maar dit beteken nie dat die deelnemers amateurs is nie. Wêreldklas kunstenaars vorm deel van die Voorkamerfest en besoekers aan vorige sodanige aanbiedinge is dit eens dat dit ‘n unieke ervaring is. Die atmosfeer is sosiaal en ontspanne van begin tot einde en vreemdes word spoedig vriende terwyl hulle met minibus taxi’s van een plek na die ander reis. Die klein gehore verleen ook ‘n atmosfeer van intimiteit aan die vertonings en daar is dikwels ‘n wisselwerking tussen die kunstenaars en die gehoor wat deur beide partye geniet word. Die enigste beperking is dat die aard van die aanbiedings beperk word tot sodanige optredes as wat in klein persele suksesvol aangebied kan word. Die feit dat daar nie ingewikkelde verhoogstelle of klanktoerusting gebruik word nie, stel hoër eise aan die kunstenaars se vernuf en talent en dra by tot die hoë standaard van die aanbiedings.
‘n Byvoordeel tot die Voorkamerfest vir die gemeenskap van Darling is dat baie van die kunstenaars deelneem aan werkswinkels by die drie plaaslike skole in die week wat die fees voorafgaan. Leerders neem deel aan talle aktiwiteite soos skryf van toneelstukke, verfilming van aksies, die maak van musiekinstrumente, dans, drama en mimiek. Die resultate van die werkswinkels word as ‘n konsert vir die gemeenskap, die aand voor die Voorkamerfest begin, aangebied waarheen veral ook die ouers van die deelnemers genooi word.
Indien u ‘n insae wil kry in die gemeenskapslewe van ‘n klein Suid-Afrikaanse dorpie is die Voorkamerfest te Darling sekerlik die beste geleentheid.