Word skeppend met Beadex 2008

Kralewerk word toenemend ‘n gewilde stokperdjie in Suid-Afrika. Sommige kralewerkers maak ‘n bestaan uit hul werk, terwyl ander pragtige kralewerk items net vir die genot daarvan maak. Ongeag in watter kategorie jy val, moet jy verseker Beadex 2008 by die Sandton Konferensiesentrum van 16 tot 18 Maart 2008 bywoon ten einde die kaleidoskoop van krale, dekor, juweliersware, skilderye, veselwerk en vele meer te aanskou.

Dit is die tweede keer wat die Beadex skouspel aangebied word na die klinkende sukses van Beadex 2007 en die organiseerders is vol vertroue dat Beadex 2008 selfs beter sal wees met inspirasie vir almal wat dit bywoon. Kralewerkers gaan voor ‘n moeilike keuse gestel word vanweë die besonder groot verskeidenheid wat aangebied word. Krale van glas, kristal, klei, hout, half –edelgesteentes, pêrels en silwer in elke denkbare vorm tesame met ‘n verskeidenheid stringmateriaal sal te koop aangebied word. Vooraf verpakte stelle vir beginners asook daaglikse demonstrasies sal bydra om nuwelinge tot hierdie stokperdjie te laat toetree. Klaar gemaakte juweliersware deur talentvolle vervaardigers sal ook vertoon en verkoop word.

Daar is ook ‘n verskeidenheid self-doen werkswinkels wat ‘n verskeidenheid tegnieke sal demonstreer. Die werkswinkels sluit in die maak van glaskrale, klip-oorbelle, gehekelde tou halssnoere, kristal armbande, veselkuns kussings en kuns borduurwerk. ‘n Werkswinkel wat fokus op krale as deel van ‘n leerproses sal ook aandag skenk aan kralewerk van verskillende materiale en is daarop gemik om kreatiwiteit ten opsigte van ontwerp en duursaamheid by studente aan te wakker. ‘n Werkswinkel oor die gebruik van die genesende waarde van krale sal meehelp om die terapeutiese waarde van kralewerk ten opsigte van liggaam en gees te bevorder.

‘n Nuwe toevoeging tot Beadex 2008 is ‘n Leefstyl Saal waar besoekers oneindig baie idees sal kry oor binnenshuise versiering deur middel van kralewerk. Kussings, lampskerms, gordynvasmakers, kandelare en servetringe is maar enkele van die items wat deur kralewerk versier en op uitstalling sal wees. Modeneigings met kralewerk op kledingstukke, handsakke en skoene sal ook vertoon word.

Beadex 2008 is ‘n gesinsgebeurtenis en kinders gaan vermaak word in Moyo’s Magic Garden waar daar spesiaal vir hulle werkswinkels aangebied gaan word met stories, tromspeel en vele ander pretdinge. Moyo lei hulle om deur gebruik te maak van herwonne materiale en krale om goedere te maak wat hulle huis toe kan neem.

Die verskeidenheid by Beadex 2008 is nimmereindigend en dus sal dit vir jou ‘n geleentheid bied om jou skeppingsdrang vrye teuels te laat geniet.